Friday, 25 October 2013

Ek Hekel 'n Mat



Ek het hierdie ronde gehekelde mat so twee maande terug klaar gemaak.  En ek LOVE dit.

Ek is gek oor die grys, wit en turquoise en wens ek kon vir ewig aangaan met die mat, maar na 32 rondtes is daar 270 steke in die laaste rondte en net onder 5000 steke in totaal.  En ek kan nie vir 'n hele uur lank aan een rondte sit en werk nie.  Nee, wat.  Daar is baba olifantjies om te hekel.

Vir die mat het ek 6 drade op 'n slag gebruik.  Moenie my vra van wat nie.  Bietjie wol hier, bietjie katoen daar...'n paar balle van daai bamboes lint...

Ek het die mat in halwe lang-bene gewerk en dit af geëindig met 'n krap-steek rand.  Die krap steek is lekker dig en leen ekstra gewig aan die laaste rondte.  Plus dis so 'n mooi rollende steek.


Lees meer hier en leer sommer hoe om self 'n ronde mat te hekel (wees gewaarsku, dis in Engels)!

Mooi bly,

xxx Dedri

Sunday, 13 October 2013

Ance se Sjokolade Poeding Resep


Sjokolade Poeding
Die Sjokolade Poeding resep is nog een van my sussie se resepte.  Ek maak dit al vir jare , en dit is nog steeds een van my go-to sjokolade nageregte. Die ander een is my ouma se sjokolade poeding, maar dit sal moet wag vir 'n ander dag .

Ek noem dit 'n sjokolade- poeding, maar dit kan net so maklik koud geëet word soos 'n morsige sjokolade koek.  Die poeding vries ook baie goed. Ek sit altyd 'n paar blokkies weg in die vrieskas vir 'n reënerige dag. Twee minute in die mikrogolf op Movie Night en jy't instant sjokolade bevrediging.

Ance se Sjokolade Poeding Resep

" Morsige Sjokolade Koek " 

( Genoeg vir 12 groot porsies )
English Recipe here.

Sjokolade Poeding Resep

Bestandele


  • 500 ml suiker ( 2 koppies)
  • 500 ml bruismeel ( 2 koppies) OF 500 ml koekmeel en 20 ml bakpoeier ( 4 teelepels )
  • 2,5 ml sout (1/2 teelepel )
  • 250 ml botter of margarien ( 1 koppie of 250 g as jy dit eerder wil weeg )
  • 180 ml ​​water ( 3/4 koppie)
  • 80 ml ​​kakao ( 1/3 koppie)
  • 2 eiers
  • 125 ml karringmelk (1/ 2 koppie ) OF gebruik melk en 1 teelepel asyn
  • 5 ml vanielje ( 1 teelepel )
  • 2,5 ml kaneel (1/2 teelepel )
  • 5 ml koeksoda ( 1 teelepel )

Metode


  1. Voor-verhit jou oond tot 180 ° C ( 360 ° F) .
  2. Plaas die botter , water en kakao in 'n kastrol en bring tot kookpunt .  Verwyder van die hitte af en laat staan eenkant terwyl jy die res van die konkoksie reg kry.
  3. Plaas suiker, meel, sout , kaneel en koeksoda in 'n groot mengbak .
  4. Meng karringmelk , eiers en vanielje in 'n aparte mengbak.
  5. Gooi die kakao mengsel oor die droë bestanddele en meng . Op hierdie punt sal jy nogal 'n droë mengsel hê.
  6. Voeg die karringmelk mengsel by en meng weer deeglik . Jy moet opeindig met 'n lekker nat beslag.
  7. Plaas die mengsel in 'n groot oondbak . Jy kan enige vierkantige bak / pan gebruik (ten minste 25 cm x 25 cm of 22 cm x 30 cm).
  8. Bak vir 30 minute of tot 'n toetspen skoon uitkom as jy hom in die middel van die poeding indruk.

Terwyl jy wag vir die nagereg om te bak, maak jou versiersuiker aan.


Versiersuiker

Maak die versiersuiker terwyl die poeding bak, want jy moet dit oor die poeding gooi sodra dit uit die oond uit kom.

Sjokolade Poeding Resep

Bestandele


  • 500 g  versiersuiker 
  • 250 ml kakao ( 1 koppie)
  • 125 ml botter of margarien (1/2 koppie of 125 g as jy dit eerder wil weeg )
  • 160 ml karringmelk (2/3 koppie ) OF gebruik melk en 1 teelepel asyn


Metode


  1. Smelt die botter in 'n kastrol.
  2. Voeg die versiersuiker en kakao by en roer goed .
  3. Voeg die karringmelk by en meng deeglik.
  4. Sodra jou poeding uit die oond kom, sny dit in 12 stukke.  Gebruik 'n getande mes, want die poeding is delikaat en warm en jy sal hom vergruisel met 'n stomp mes.  Moet ook nou nie mal gaan en die rofste mes vat wat jy het nie.  'n Mes wat 'n tamatie lekker sal sny is perfek.  
  5. Gooi die warm versiersel dadelik oor.  Ek gaan altyd weer oor die "snye" met die mes sodat die versiersuiker lekker in al die gleuwe inloop.  Julle, hoe grom my maag nou...
Soos ek reeds genoem het, jy kan die poeding warm of koud eet en jy kan dit selfs bedien as 'n morsige koek.  Dit is egter NIE 'n stand-alone koek nie, so as jy probeer om 'n perfekte ronde koek met hierdie resep te maak gaan jy jouself lelik vasloop.


Die poeding is klam en lig en hou glad nie sy vorm goed nie.  Dis hoekom dit beter is om dit as 'n poeding as 'n koek te bedien.

Gooi 'n bietjie roomys bo-op en elke Jan Rap en sy maat sal bak-hand staan vir die resep.

Toe, probeer dit . En sê dan vir my hoe gek jy is daaroor!

Dit poeding is baie soet, so as jy nie te veel van soet  goed hou nie, dis kleiner porsies op met meer roomys, OF gooi minder van die versiersuiker oor.  

Voel vry om vir my te kom kuier op www.lookatwhatimade.net.  Van daar af kan jy my gruwelooslik stalk op Facebook en Bloglovin.

Lekker vreet (want aan so 'n poeding eet 'n mens nie).

xxx Dedri

Sunday, 6 October 2013

Yskastert Hekel Blokkie Patroon

Goeie more!  Ja, NOG 'n hekel blokkie.  Asof daar nie al klaar genoeg van hulle is nie.

Hierdie Yskastert Hekel Blokkies werk lekker vinnig op en daar is genoeg steek-variasie, so hopelik sal jy nie jou arm wil afkou na die tiende blokkie nie.  Ter selfde tyd is die blokkie eenvoudig genoeg om sommer so kips! te memoriseer.

As jy "double knit" (ek wil die heeltyd sê dubbeldoor, hehe..seker omdat my pa 'n volstruis boer was en ek eiers op die brein het) wol en 'n 4 mm hekel pen gebruik, sal die blokkies ongeveer 10 cm groot wees.  Jy kan natuurlik dikker wol en 'n groter hekel pen gebruik as jy 'n bietjie lui is soos ek.

Die blokkie is soooo eenvoudig, maar daar is letterlik duisende maniere om jou kombers of kussing uniek te maak deur die oriëntasie/kleur van die blokkies te verander.

'n Paar Idees 


Die patroon bevat 'n foto-tutoriaal, 'n "chart" en 'n ekstra 1-bladsy patroon (sodat jy dit maklik kan uitdruk).  Daar is ook verskillende template (gebaseer op die kombinasies in die foto hierbo) wat jy kan uitdruk om jou kombers op te beplan.

Last, but by no means least, deel ek hoe om die blokkies aanmekaar te werk met die glip steek "zipper" metode.  Dit vat 'n bietjie meer tyd as sommige ander metodes, maar die some is so plat soos 'n pannekoek!


Waar Kry Ek Die Patroon?


Vind die patroon hier in my Ravelry winkel.  Moenie worry nie, dis verniet.


 Lekker hekel!

xxx Dedri

Wednesday, 25 September 2013

Kleur Jou Eie Baba Kobersies

Kleur jou eie baba kombersies




Ons hou almal van mooi goetertjies, maar ek het nou maar net een maal nie die geld om alles te koop wat my hart begeer nie.  Ek is gek oor al die mooi baba kombersies op die mark, veral Aiden en Anais se pragtige ontwerpe.  

"Swaddle" kombersies is een van die goed waarsonder ek nie sou klaarkom nie.  My seuns was almal kla-kouse en party keer was die enigste ding wat hulle kon stil kry as ek hulle toedraai soos 'n papie en wieg en sus tot my asem uit is.  En as 'n ma dan nou MOET wieg en sus kan sy dit mos maar netsowel in 'n moooi kombers doen, of hoe?

Ek het vir my 3 wit moeselien (yikes, is dit regtig die woord?) komberse gekoop en hulle sommer self gekleur.  En dis ongelooflik hoe so 'n klein mooigeidjie in jou kop kan vassteek.  Elke keer as ek aan Xander dink as 'n baba, sien ek hom opgebondel in hierdie blou kombersie of weg gesteek onder dit vir 'n voed.

As jou sakke, soos myne, nie diep is nie, maar jy wil ook mooi helder kombersies hê, gaan kyk 'n bietjie hier hoe om jou eie kombersies te kleur.  

En moenie skaam wees nie.  Kies enige kleur wat jou hart begeer.  Wat van Kanarie Geel, Oranje, Granaat Pienk of Bougainvillea Pers?

Kleur jou eie baba kombersies

En terwyl jy nou besig is met die gekleurery, gooi sommer 'n paar wit baby grows by.  Hulle kleur baie goed. 

Kleur jou eie baba kombersies
Die enigste ding wat jy moet onthou is dat die stiksel gewoonlik sinteties is en dus nie die kleur sal absorbeer nie.  Op die foto hier onder kan jy sien dat die stiksel wit gebly het, al het die baby grows self baie mooi gekleur.

Kleur jou eie baba kombersies

Mooi dag vir julle!

xxx dedri




Meimei - Gratis Olifant Hekel Patroon

Gratis Olifant Hekel Patroon
Gratis Olifant Hekel Patroon

 Meimei beteken klein sussie in Chinees. En is dit nie die perfekte naam vir hierdie klein baba-olifant hekel patroon nie?

Meimei is 11 cm van kop tot stert (sonder haar slurp) en 9 cm hoog. Perfek, of hoe? Sy het beweegbare ledemate, so sy kan gemaklik sit en staan.

Sy gebruik baie min wol (minder as 60 m in totaal) en werk in 'n japtrap op.

Maar my gunsteling feature is die feit dat daar geen naaldwerk betrokke is nie (behalwe nou vir die paar sterte wat weg gewerk moet word).  Meimei se kop, liggaam en stert word in een stuk gewerk en haar ore en bene word aangeheg soos jy gaan.

Ek is so in my skik met hoe sy uitgekom het en is baie opgewonde om die patroon met julle te deel.

Die Patroon

Gratis Olifant Hekel Patroon
Eerstens moet ek seker maar noem dat die patroon in Engels geskryf is en Amerikaanse hekel terminologie gebruik.  Hier is 'n tabel wat die vertalings/vergelykings uiteensit.

Die patroon is geskik vir Gevorderde Beginners. 

Die patroon sluit instruksies in vir 'n opsionele matjie wat jy aan haar rug kan vaswerk.

Die matjie is klein, maar gebruik meer komplekse steke. Ek het gedink dit sal die perfekte geleentheid wees om 'n bietjie van daai hekel spinnerakke ontslae te raak deur te eksperimenteer met die onderbaadjie steek en die krap steek.

Gratis Olifant Hekel Patroon

Jy kan die patroon hier kry.  



En terwyl jy daar is, kyk sommer na van my ander gratis patrone.  Hou veral jou oë oop vir Meimei se sussie, Grace, wat 'n gehekelde troetel-kombersie is.

Lekker hekel!

xxx dedri

Thursday, 6 June 2013

Karringmelk Beskuit Resep

Karringmelk Beskuit Resep

My man love nou maar een maal net beskuit.  En Karringmelk Beskuit is seker sy heel gunsteling.

So hier vind ons ons-self in Engeland.  Dit is veronderstel om somer te wees, maar die mis lê wit op die skool veld agter ons huis en daar was die ander dag nog ryp - genoeg om my brose tamatie-plantjies heeltemal te laat vrek.

En ek verlang huis toe.  Met die tipe verlang wat jou hart tot in jou maag laat sak en jou dryf om Pampoen en Beautiful in Beaufort-wes oor en oor te luister tot jy siek is daarvan en steeds kan jy nie stop nie.

En op so 'n dag is daar niks wat jou verlange meer kan voed (en terselfde tyd troos) as koffie uit 'n gechipte enamel beker en 'n paar stukkies karringmelk beskuit nie.  Voeg daarby 'n paar ou kopieë van Sarie kos en Idees (met hand geskryfde notatjies van my ma weg gesteek tussen die resepte en die foto's) en jy het die perfekte gif en teen-gif;  die perfekte pity party!
Karringmelk Beskuit Resep

En omdat hierdie beskuit my man se knieë laat swik - soos wat net my Marmite koek (en een ander ding) kan - wil ek graag die resep met julle deel.

En vir die van julle wat Engels verkies, hier is die resep in Engels.  

Karringmelk Beskuit Resep

{Buttermilk Rusks Recipe}

Maak 36 stukke beskuit

Die beskuit vat 1 uur om te maak en te bak.  Dit vat 6 ure in 'n lou oond om uit te droog.
Karringmelk Beskuit Resep

Bestandele

  • 500 g bruismeel
  • 2 ml sout
  • 125 ml botter/margarien 
  • 250 ml semels
  • 125 ml pitlose rosyne 
  • 100 ml suiker
  • 1 groot eier, geklits
  • 250 ml karringmelk (of een koppie melk versuur met 1 teelepel suurlemoen sap/asyn)

 Metode

  1. Voorverhit die oond tot by 180°C.
  2. Sif meel en sout saam en vryf die margarien in met jou vingerpunte.
  3. Voeg semels en rosyne by en meng goed.
  4. Klits suiker by die geklitste eier totdat die mengsel liggeel en dik is en roer dan die  karringmelk by.
  5. Gooi die nat bestandele by die droë bestandele en meng goed.  Jy wil hê jou deeg moet klam wees, maar nie so klam dat jy dit nie kan hanteer nie.  Gebruik maar jou common sense, mensie.  As die deeg te nat is, gooi 'n bietjie meel by.  As die deeg te droog is, gooi 'n bietjie water by.
  6. Fatsoeneer die deeg in balletjies so groot soos eiers (en ontrent dieselfde vorm) en pak dig langs mekaar in 'n  gesmeerde vierkantige koekpan van ongeveer 20 x  20 cm.
  7. Bak vir 40 minute by 180°C.
  8. Keer die pan uit en laat die beskuit afkoel.  Wanneer alles lekker koel is, breek die beskuit in stukke op.
  9. Droog in 'n koel oond vir ongeveer 6 ure (by 75°C). 

Karringmelk Beskuit Resep


Stoor jou beskuit in 'n lugdigte houer.  Ek stel voor jy bêre dit bo-op die yskas, want as jou kinders dit kan bykom is dit tickets met jou beskuit.  Of dalk is jou kinders die uitsondering op die reël en eet hulle actually nie ALLES waarop hulle hulle hande kan lê nie.

Ek weet nie regtig hoe lank die beskuit SAL hou nie, given half a chance, maar ek neem aan dit sal vir maande ok wees.  Beskuit hou nie baie lank in my huis nie.  Een...twee...drie...all gone!

Karringmelk Beskuit Resep

Net omdat ek obsessed is met hekel en aanneem dat almal anders ook is, sal ek vir julle sê dat julle die patroon vir die blom vatlappie hier kan kry.  Die patroontjie is verniet en vinnig om te maak...net ingeval iemand wou weet.

Onthou dat julle my kaskenades in Engels kan volg deur aan te teken vir my nuusbrief by lookatwhatimade.net.  Julle kan ook my facebook bladsy loop LIKE.  

Ek hekel meer as wat ek bak, maar ek bak meer as wat ek nie bak nie, so daar is altyd ietsie aan die gang.

Mooi bly 

xxx dedri

Wednesday, 5 June 2013

Tannie Dollie Stootwaentjie Sak: Hekel Patroon

Hierdie patroon is gebaseer op 'n patroon wat my ma tussen my ouma-grootjie se goeters gekry het.  Die een handvatsel is korter as die ander een omdat jy die lang een deur die kort ene ryg om die sak toe te maak.

Dit was een van die eerste patrone wat ek geskryf het en ek wou die patroon al lankal bietjie re-vamp.  Maar julle weet mos...daar is altyd iets anders om te doen.

En toe, annerdag, deel een van die tannies op Facebook haar Tannie Dollie sak met my.  Sy vertel my hoe baie sy van die patroon hou en hoe lekker die sak werk oor die handvatsel van haar stootwaentjie.  Right, dog ek toe.  Ek moet seker 'n plan maak.  En dis toe net wat ek gedoen het.  Ek is so bly dat ek dit uiteindelik van my "to-do" lysie kan afhaal.

Ek kan my gat skop dat ek nie self aan die hele stootwaentjie idee gedink het nie.  Elke keer as ek met my drie uitgaan is dit 'n gesukkel en 'n gebalanseer.  Hierdie sak glip sommer so kips oor die handvatsel en is groot genoeg om als te dra wat ek nodig het, maar nie so groot dat hy die hele stootwaentjie om trek wanneer ek vir Xander uithaal nie.


Die Tannie Dollie sak werk ook baie lekker as 'n "market bag" - wat noem julle dit is sonnige Suid Afrika?  My brein staan al engels toe.  Anyways.  Vir groot goed soos doeke en appels werk die sak perfek.  


Maar as jy een van daai anties is wat altyd 'n lipstick en 'n pen en drie haakspelde en 'n klomp change in haar handsak rond dra...kom nou, moenie skaam wees om dit te herken nie.  As dit jy is, gaan jy 'n bietjie sukkel, want die sak is nogal gaterig.  Maar!  Daar is altyd 'n maar...  Ek het 'n tutoriaal gedoen oor hoe om die sak 'n lap-voering te gee.  Dis ideaal vir die van julle wat graag die sak as 'n handsak wil gebruik!

Die hekel instruksies is in Amerikaanse hekel terme geskryf, maar dis die selfde as Afrikaanse hekel terme, net in Engels, so ek is seker julle sal ok wees.  En as dit jou afsit, nonsens!  Hier is 'n tabel wat die verskillende steke in Afrikaans, UK Engels en US Engels vergelyk.

Die Tannie Dollie Hekel Sak patroon maak gebruik van:


  • kortbeenjies
  • halwe langbeentjies
  • langbeentjies
  • moerse langbeentjies...skies, dubbelslag langbeentjies

Jy moet ook gemaklik wees met vermeerdering en vermindering.

Benodigdhede


  • 'n 7 mm hekelpen
  • 2 drade "double knit" wol OF 1 draad "chunky" wol (ontrent 200g)
  • 'n wol naald
  • die patroon (jy kan dit hier aflaai)






Sunday, 19 May 2013

Ek Hekel 'n Dieretuin

En daar sterf my drome vir 'n ou Afrikaanse bloggie vinniger as wat hulle begin het.  Ses maande aan en die ou bladsytjie lê dik van die stof en wag...  Maar dit beteken hoegenaamd nie dat ek lui-gat was nie.  Op my engelse "site", lookatwhatimade.net, gaan dit rof, rowwer, rofste.  En om dit te bewys wil ek graag 'n paar van my nuutste hekelpatrone met julle deel.

Party van hierdie patrone kos 'n geldjie, party is verniet.  Almal is met liefde gemaak en totaal uniek.  Nie een van hulle is in Afrikaans nie.  Maar ek is dood seker dat julle dit sal kan uitfigure.  En as dit bietjie lol, hier is 'n tabel wat die hekel terminologie in Afrikaans, Britse Engels en Amerikaanse Engels vergelyk.

Gratis hekel patrone
Gratis: Kiwi Puzzle Hekel Patroon
Vind instruksies hier
Gratis:  Grace - Olifant baba "liefie" of kombersie hekel patroon
Lees meer
Laai die patroon af
Gratis:  Cat in the Hat Hekel Patroon
Lees Meer
Laai die patroon af
Gratis:  Voetspoor Hekel Patroon
Lees Meer
Laai die patroon af
Gratis:  Piep-klein Paas Kuiken Hekel Patroon
Vind die instruksies hier
Gratis:  Paisley Hekel Patroon
Vind die instruksies hier
Gratis:  Mamma Hoender Sak Hekel Patroon
Vind die instruksies hier
Gratis:  Roomys en Cupcake Sak Hekel Patroon
Vind die instruksies hier
Gratis:  "George Pig" Hekel Patroon
Lees Meer
Laai die patroon af
Gratis:  "Peppa Pig" Hekel Patroon
Lees Meer
Laai die patroon af

Haal-uit-en-betaal hekel patrone

Die volgende diere is almal gebaseer op die Aamse Hekel Bal.  Hulle skuil almal onder die versamelnaam Amamani (Amigurumi Amish Puzzle Animals) en bestaan elk uit 3 segmente wat "gebou" moet word om die diere te vorm.
Die ontwerp is perfek vir klein handjies en ogies en die puzzles is net-net moeilik genoeg om 'n 4-jarige vir 'n rukkie besig te hou.  En as jy nog nooit een van die diere (of selfs eens die bal) aan mekaar gesit het nie, sal jy self 'n bietjie sukkel.  Ek stop een-en-elk wat kom kuier 'n dier in die hand en dan sit en giggle ek terwyl hulle dit aan mekaar probeer sit.
Ag nou ja.  Small things amuse small minds, nê.
Dinosaurus Puzzle Hekel Patroon
Lees Meer
Hermione die Perd Puzzle Hekel Patroon
Lees Meer
Gemina die Kameelperd Hekel Patroon
Lees Meer
Gregor die Renoster Puzzle Hekel Patroon
Lees Meer
Eleanor die Olifant Puzzle Hekel Patroon
Lees Meer
Skillie die Skilpad Puzzle Hekel Patroon
Lees Meer
Soos julle seker kan aflei is Lookatwhatimade my hoof bladsy.  So as jy nie omgee vir my Ingels nie en graag op hoogte gehou wil word, teken in/op/aan vir lookatwhatimade se nuusbrief of Like my op Facebook.

Mooi bly en lekker hekel

xxx dedri