Thursday, 6 June 2013

Karringmelk Beskuit Resep

Karringmelk Beskuit Resep

My man love nou maar een maal net beskuit.  En Karringmelk Beskuit is seker sy heel gunsteling.

So hier vind ons ons-self in Engeland.  Dit is veronderstel om somer te wees, maar die mis lê wit op die skool veld agter ons huis en daar was die ander dag nog ryp - genoeg om my brose tamatie-plantjies heeltemal te laat vrek.

En ek verlang huis toe.  Met die tipe verlang wat jou hart tot in jou maag laat sak en jou dryf om Pampoen en Beautiful in Beaufort-wes oor en oor te luister tot jy siek is daarvan en steeds kan jy nie stop nie.

En op so 'n dag is daar niks wat jou verlange meer kan voed (en terselfde tyd troos) as koffie uit 'n gechipte enamel beker en 'n paar stukkies karringmelk beskuit nie.  Voeg daarby 'n paar ou kopieë van Sarie kos en Idees (met hand geskryfde notatjies van my ma weg gesteek tussen die resepte en die foto's) en jy het die perfekte gif en teen-gif;  die perfekte pity party!
Karringmelk Beskuit Resep

En omdat hierdie beskuit my man se knieë laat swik - soos wat net my Marmite koek (en een ander ding) kan - wil ek graag die resep met julle deel.

En vir die van julle wat Engels verkies, hier is die resep in Engels.  

Karringmelk Beskuit Resep

{Buttermilk Rusks Recipe}

Maak 36 stukke beskuit

Die beskuit vat 1 uur om te maak en te bak.  Dit vat 6 ure in 'n lou oond om uit te droog.
Karringmelk Beskuit Resep

Bestandele

  • 500 g bruismeel
  • 2 ml sout
  • 125 ml botter/margarien 
  • 250 ml semels
  • 125 ml pitlose rosyne 
  • 100 ml suiker
  • 1 groot eier, geklits
  • 250 ml karringmelk (of een koppie melk versuur met 1 teelepel suurlemoen sap/asyn)

 Metode

  1. Voorverhit die oond tot by 180°C.
  2. Sif meel en sout saam en vryf die margarien in met jou vingerpunte.
  3. Voeg semels en rosyne by en meng goed.
  4. Klits suiker by die geklitste eier totdat die mengsel liggeel en dik is en roer dan die  karringmelk by.
  5. Gooi die nat bestandele by die droë bestandele en meng goed.  Jy wil hê jou deeg moet klam wees, maar nie so klam dat jy dit nie kan hanteer nie.  Gebruik maar jou common sense, mensie.  As die deeg te nat is, gooi 'n bietjie meel by.  As die deeg te droog is, gooi 'n bietjie water by.
  6. Fatsoeneer die deeg in balletjies so groot soos eiers (en ontrent dieselfde vorm) en pak dig langs mekaar in 'n  gesmeerde vierkantige koekpan van ongeveer 20 x  20 cm.
  7. Bak vir 40 minute by 180°C.
  8. Keer die pan uit en laat die beskuit afkoel.  Wanneer alles lekker koel is, breek die beskuit in stukke op.
  9. Droog in 'n koel oond vir ongeveer 6 ure (by 75°C). 

Karringmelk Beskuit Resep


Stoor jou beskuit in 'n lugdigte houer.  Ek stel voor jy bêre dit bo-op die yskas, want as jou kinders dit kan bykom is dit tickets met jou beskuit.  Of dalk is jou kinders die uitsondering op die reël en eet hulle actually nie ALLES waarop hulle hulle hande kan lê nie.

Ek weet nie regtig hoe lank die beskuit SAL hou nie, given half a chance, maar ek neem aan dit sal vir maande ok wees.  Beskuit hou nie baie lank in my huis nie.  Een...twee...drie...all gone!

Karringmelk Beskuit Resep

Net omdat ek obsessed is met hekel en aanneem dat almal anders ook is, sal ek vir julle sê dat julle die patroon vir die blom vatlappie hier kan kry.  Die patroontjie is verniet en vinnig om te maak...net ingeval iemand wou weet.

Onthou dat julle my kaskenades in Engels kan volg deur aan te teken vir my nuusbrief by lookatwhatimade.net.  Julle kan ook my facebook bladsy loop LIKE.  

Ek hekel meer as wat ek bak, maar ek bak meer as wat ek nie bak nie, so daar is altyd ietsie aan die gang.

Mooi bly 

xxx dedri

Wednesday, 5 June 2013

Tannie Dollie Stootwaentjie Sak: Hekel Patroon

Hierdie patroon is gebaseer op 'n patroon wat my ma tussen my ouma-grootjie se goeters gekry het.  Die een handvatsel is korter as die ander een omdat jy die lang een deur die kort ene ryg om die sak toe te maak.

Dit was een van die eerste patrone wat ek geskryf het en ek wou die patroon al lankal bietjie re-vamp.  Maar julle weet mos...daar is altyd iets anders om te doen.

En toe, annerdag, deel een van die tannies op Facebook haar Tannie Dollie sak met my.  Sy vertel my hoe baie sy van die patroon hou en hoe lekker die sak werk oor die handvatsel van haar stootwaentjie.  Right, dog ek toe.  Ek moet seker 'n plan maak.  En dis toe net wat ek gedoen het.  Ek is so bly dat ek dit uiteindelik van my "to-do" lysie kan afhaal.

Ek kan my gat skop dat ek nie self aan die hele stootwaentjie idee gedink het nie.  Elke keer as ek met my drie uitgaan is dit 'n gesukkel en 'n gebalanseer.  Hierdie sak glip sommer so kips oor die handvatsel en is groot genoeg om als te dra wat ek nodig het, maar nie so groot dat hy die hele stootwaentjie om trek wanneer ek vir Xander uithaal nie.


Die Tannie Dollie sak werk ook baie lekker as 'n "market bag" - wat noem julle dit is sonnige Suid Afrika?  My brein staan al engels toe.  Anyways.  Vir groot goed soos doeke en appels werk die sak perfek.  


Maar as jy een van daai anties is wat altyd 'n lipstick en 'n pen en drie haakspelde en 'n klomp change in haar handsak rond dra...kom nou, moenie skaam wees om dit te herken nie.  As dit jy is, gaan jy 'n bietjie sukkel, want die sak is nogal gaterig.  Maar!  Daar is altyd 'n maar...  Ek het 'n tutoriaal gedoen oor hoe om die sak 'n lap-voering te gee.  Dis ideaal vir die van julle wat graag die sak as 'n handsak wil gebruik!

Die hekel instruksies is in Amerikaanse hekel terme geskryf, maar dis die selfde as Afrikaanse hekel terme, net in Engels, so ek is seker julle sal ok wees.  En as dit jou afsit, nonsens!  Hier is 'n tabel wat die verskillende steke in Afrikaans, UK Engels en US Engels vergelyk.

Die Tannie Dollie Hekel Sak patroon maak gebruik van:


  • kortbeenjies
  • halwe langbeentjies
  • langbeentjies
  • moerse langbeentjies...skies, dubbelslag langbeentjies

Jy moet ook gemaklik wees met vermeerdering en vermindering.

Benodigdhede


  • 'n 7 mm hekelpen
  • 2 drade "double knit" wol OF 1 draad "chunky" wol (ontrent 200g)
  • 'n wol naald
  • die patroon (jy kan dit hier aflaai)