Wednesday, 25 September 2013

Kleur Jou Eie Baba Kobersies

Kleur jou eie baba kombersies




Ons hou almal van mooi goetertjies, maar ek het nou maar net een maal nie die geld om alles te koop wat my hart begeer nie.  Ek is gek oor al die mooi baba kombersies op die mark, veral Aiden en Anais se pragtige ontwerpe.  

"Swaddle" kombersies is een van die goed waarsonder ek nie sou klaarkom nie.  My seuns was almal kla-kouse en party keer was die enigste ding wat hulle kon stil kry as ek hulle toedraai soos 'n papie en wieg en sus tot my asem uit is.  En as 'n ma dan nou MOET wieg en sus kan sy dit mos maar netsowel in 'n moooi kombers doen, of hoe?

Ek het vir my 3 wit moeselien (yikes, is dit regtig die woord?) komberse gekoop en hulle sommer self gekleur.  En dis ongelooflik hoe so 'n klein mooigeidjie in jou kop kan vassteek.  Elke keer as ek aan Xander dink as 'n baba, sien ek hom opgebondel in hierdie blou kombersie of weg gesteek onder dit vir 'n voed.

As jou sakke, soos myne, nie diep is nie, maar jy wil ook mooi helder kombersies hê, gaan kyk 'n bietjie hier hoe om jou eie kombersies te kleur.  

En moenie skaam wees nie.  Kies enige kleur wat jou hart begeer.  Wat van Kanarie Geel, Oranje, Granaat Pienk of Bougainvillea Pers?

Kleur jou eie baba kombersies

En terwyl jy nou besig is met die gekleurery, gooi sommer 'n paar wit baby grows by.  Hulle kleur baie goed. 

Kleur jou eie baba kombersies
Die enigste ding wat jy moet onthou is dat die stiksel gewoonlik sinteties is en dus nie die kleur sal absorbeer nie.  Op die foto hier onder kan jy sien dat die stiksel wit gebly het, al het die baby grows self baie mooi gekleur.

Kleur jou eie baba kombersies

Mooi dag vir julle!

xxx dedri




Meimei - Gratis Olifant Hekel Patroon

Gratis Olifant Hekel Patroon
Gratis Olifant Hekel Patroon

 Meimei beteken klein sussie in Chinees. En is dit nie die perfekte naam vir hierdie klein baba-olifant hekel patroon nie?

Meimei is 11 cm van kop tot stert (sonder haar slurp) en 9 cm hoog. Perfek, of hoe? Sy het beweegbare ledemate, so sy kan gemaklik sit en staan.

Sy gebruik baie min wol (minder as 60 m in totaal) en werk in 'n japtrap op.

Maar my gunsteling feature is die feit dat daar geen naaldwerk betrokke is nie (behalwe nou vir die paar sterte wat weg gewerk moet word).  Meimei se kop, liggaam en stert word in een stuk gewerk en haar ore en bene word aangeheg soos jy gaan.

Ek is so in my skik met hoe sy uitgekom het en is baie opgewonde om die patroon met julle te deel.

Die Patroon

Gratis Olifant Hekel Patroon
Eerstens moet ek seker maar noem dat die patroon in Engels geskryf is en Amerikaanse hekel terminologie gebruik.  Hier is 'n tabel wat die vertalings/vergelykings uiteensit.

Die patroon is geskik vir Gevorderde Beginners. 

Die patroon sluit instruksies in vir 'n opsionele matjie wat jy aan haar rug kan vaswerk.

Die matjie is klein, maar gebruik meer komplekse steke. Ek het gedink dit sal die perfekte geleentheid wees om 'n bietjie van daai hekel spinnerakke ontslae te raak deur te eksperimenteer met die onderbaadjie steek en die krap steek.

Gratis Olifant Hekel Patroon

Jy kan die patroon hier kry.  



En terwyl jy daar is, kyk sommer na van my ander gratis patrone.  Hou veral jou oë oop vir Meimei se sussie, Grace, wat 'n gehekelde troetel-kombersie is.

Lekker hekel!

xxx dedri