Friday, 25 October 2013

Ek Hekel 'n Mat



Ek het hierdie ronde gehekelde mat so twee maande terug klaar gemaak.  En ek LOVE dit.

Ek is gek oor die grys, wit en turquoise en wens ek kon vir ewig aangaan met die mat, maar na 32 rondtes is daar 270 steke in die laaste rondte en net onder 5000 steke in totaal.  En ek kan nie vir 'n hele uur lank aan een rondte sit en werk nie.  Nee, wat.  Daar is baba olifantjies om te hekel.

Vir die mat het ek 6 drade op 'n slag gebruik.  Moenie my vra van wat nie.  Bietjie wol hier, bietjie katoen daar...'n paar balle van daai bamboes lint...

Ek het die mat in halwe lang-bene gewerk en dit af geëindig met 'n krap-steek rand.  Die krap steek is lekker dig en leen ekstra gewig aan die laaste rondte.  Plus dis so 'n mooi rollende steek.


Lees meer hier en leer sommer hoe om self 'n ronde mat te hekel (wees gewaarsku, dis in Engels)!

Mooi bly,

xxx Dedri

Sunday, 13 October 2013

Ance se Sjokolade Poeding Resep


Sjokolade Poeding
Die Sjokolade Poeding resep is nog een van my sussie se resepte.  Ek maak dit al vir jare , en dit is nog steeds een van my go-to sjokolade nageregte. Die ander een is my ouma se sjokolade poeding, maar dit sal moet wag vir 'n ander dag .

Ek noem dit 'n sjokolade- poeding, maar dit kan net so maklik koud geëet word soos 'n morsige sjokolade koek.  Die poeding vries ook baie goed. Ek sit altyd 'n paar blokkies weg in die vrieskas vir 'n reënerige dag. Twee minute in die mikrogolf op Movie Night en jy't instant sjokolade bevrediging.

Ance se Sjokolade Poeding Resep

" Morsige Sjokolade Koek " 

( Genoeg vir 12 groot porsies )
English Recipe here.

Sjokolade Poeding Resep

Bestandele


  • 500 ml suiker ( 2 koppies)
  • 500 ml bruismeel ( 2 koppies) OF 500 ml koekmeel en 20 ml bakpoeier ( 4 teelepels )
  • 2,5 ml sout (1/2 teelepel )
  • 250 ml botter of margarien ( 1 koppie of 250 g as jy dit eerder wil weeg )
  • 180 ml ​​water ( 3/4 koppie)
  • 80 ml ​​kakao ( 1/3 koppie)
  • 2 eiers
  • 125 ml karringmelk (1/ 2 koppie ) OF gebruik melk en 1 teelepel asyn
  • 5 ml vanielje ( 1 teelepel )
  • 2,5 ml kaneel (1/2 teelepel )
  • 5 ml koeksoda ( 1 teelepel )

Metode


  1. Voor-verhit jou oond tot 180 ° C ( 360 ° F) .
  2. Plaas die botter , water en kakao in 'n kastrol en bring tot kookpunt .  Verwyder van die hitte af en laat staan eenkant terwyl jy die res van die konkoksie reg kry.
  3. Plaas suiker, meel, sout , kaneel en koeksoda in 'n groot mengbak .
  4. Meng karringmelk , eiers en vanielje in 'n aparte mengbak.
  5. Gooi die kakao mengsel oor die droë bestanddele en meng . Op hierdie punt sal jy nogal 'n droë mengsel hê.
  6. Voeg die karringmelk mengsel by en meng weer deeglik . Jy moet opeindig met 'n lekker nat beslag.
  7. Plaas die mengsel in 'n groot oondbak . Jy kan enige vierkantige bak / pan gebruik (ten minste 25 cm x 25 cm of 22 cm x 30 cm).
  8. Bak vir 30 minute of tot 'n toetspen skoon uitkom as jy hom in die middel van die poeding indruk.

Terwyl jy wag vir die nagereg om te bak, maak jou versiersuiker aan.


Versiersuiker

Maak die versiersuiker terwyl die poeding bak, want jy moet dit oor die poeding gooi sodra dit uit die oond uit kom.

Sjokolade Poeding Resep

Bestandele


  • 500 g  versiersuiker 
  • 250 ml kakao ( 1 koppie)
  • 125 ml botter of margarien (1/2 koppie of 125 g as jy dit eerder wil weeg )
  • 160 ml karringmelk (2/3 koppie ) OF gebruik melk en 1 teelepel asyn


Metode


  1. Smelt die botter in 'n kastrol.
  2. Voeg die versiersuiker en kakao by en roer goed .
  3. Voeg die karringmelk by en meng deeglik.
  4. Sodra jou poeding uit die oond kom, sny dit in 12 stukke.  Gebruik 'n getande mes, want die poeding is delikaat en warm en jy sal hom vergruisel met 'n stomp mes.  Moet ook nou nie mal gaan en die rofste mes vat wat jy het nie.  'n Mes wat 'n tamatie lekker sal sny is perfek.  
  5. Gooi die warm versiersel dadelik oor.  Ek gaan altyd weer oor die "snye" met die mes sodat die versiersuiker lekker in al die gleuwe inloop.  Julle, hoe grom my maag nou...
Soos ek reeds genoem het, jy kan die poeding warm of koud eet en jy kan dit selfs bedien as 'n morsige koek.  Dit is egter NIE 'n stand-alone koek nie, so as jy probeer om 'n perfekte ronde koek met hierdie resep te maak gaan jy jouself lelik vasloop.


Die poeding is klam en lig en hou glad nie sy vorm goed nie.  Dis hoekom dit beter is om dit as 'n poeding as 'n koek te bedien.

Gooi 'n bietjie roomys bo-op en elke Jan Rap en sy maat sal bak-hand staan vir die resep.

Toe, probeer dit . En sê dan vir my hoe gek jy is daaroor!

Dit poeding is baie soet, so as jy nie te veel van soet  goed hou nie, dis kleiner porsies op met meer roomys, OF gooi minder van die versiersuiker oor.  

Voel vry om vir my te kom kuier op www.lookatwhatimade.net.  Van daar af kan jy my gruwelooslik stalk op Facebook en Bloglovin.

Lekker vreet (want aan so 'n poeding eet 'n mens nie).

xxx Dedri

Sunday, 6 October 2013

Yskastert Hekel Blokkie Patroon

Goeie more!  Ja, NOG 'n hekel blokkie.  Asof daar nie al klaar genoeg van hulle is nie.

Hierdie Yskastert Hekel Blokkies werk lekker vinnig op en daar is genoeg steek-variasie, so hopelik sal jy nie jou arm wil afkou na die tiende blokkie nie.  Ter selfde tyd is die blokkie eenvoudig genoeg om sommer so kips! te memoriseer.

As jy "double knit" (ek wil die heeltyd sê dubbeldoor, hehe..seker omdat my pa 'n volstruis boer was en ek eiers op die brein het) wol en 'n 4 mm hekel pen gebruik, sal die blokkies ongeveer 10 cm groot wees.  Jy kan natuurlik dikker wol en 'n groter hekel pen gebruik as jy 'n bietjie lui is soos ek.

Die blokkie is soooo eenvoudig, maar daar is letterlik duisende maniere om jou kombers of kussing uniek te maak deur die oriëntasie/kleur van die blokkies te verander.

'n Paar Idees 


Die patroon bevat 'n foto-tutoriaal, 'n "chart" en 'n ekstra 1-bladsy patroon (sodat jy dit maklik kan uitdruk).  Daar is ook verskillende template (gebaseer op die kombinasies in die foto hierbo) wat jy kan uitdruk om jou kombers op te beplan.

Last, but by no means least, deel ek hoe om die blokkies aanmekaar te werk met die glip steek "zipper" metode.  Dit vat 'n bietjie meer tyd as sommige ander metodes, maar die some is so plat soos 'n pannekoek!


Waar Kry Ek Die Patroon?


Vind die patroon hier in my Ravelry winkel.  Moenie worry nie, dis verniet.


 Lekker hekel!

xxx Dedri